Skelm hengel ?

Wie dit mag aangaan:

 

Ek en ‘n vriend tesame met sy gesin het vroeër die jaar besluit om gedurende die Paas vakansie te gaan kamp. Na ons ‘n paar opsies oorweeg het is daar besluit op Bloemhofdam. Ons het rond gebel en is deur die vriendelike Jeanette van die natuur reservaat gehelp. Sy het ons ingelig oor die komende Bonanza wat sou plaasvind gedurende die tyd wat ons daar wil kamp en hengel. Logies is die staanplekke met krag lankal bespreek en ons wil bietjie “rough” kampeer. Geen krag, geen geriewe. Ons het haar meegedeel dat ons nie aan die Bonanza gaan deelneem nie en sy het ons verseker dat dit nie ‘n problem sou wees nie en dat daar baie staanplekke in die reservaat om die dam beskikbaar is. (Oop staanplekke sonder krag)

Donderdag oggend, 28 April is ons al vroeg in die pad (van Rustenburg) en ariveer by Bloemhof natuur reservaat net na 9. Gelde word oorbetaal vir toegang, kampeer en hengel. Ek het die beampte aan diens gesê ons hengel nie kompetisie nie en hy beduie toe waarheen ons moet ry om ‘n kampeer plekkie te soek. Regs by die derde volstruispad. Ek ry voor met my Nissan 4×4 en my vriend volg in sy Bantam bakkie met ‘n sleepwa. Die pad is modder met damme water. Die Bantam sit vas nog voor ons die tweede volstruispad kry. Ons haak die sleepwa aan my Nissan en so vorder ons verder. Plasse water en diep modder is die pad. Afgedraai by die derde volstruispad begin ons moed verder wegsink. Die kamp plekke teen die dam is moeras en die paaie net modder. My Nissan en die sleepwa gaan steek vas. 4×4 low range help nie eers nie. Gelukkig is daar ‘n trekker beskikbaar en die vriendelike man help ons uit. Na ‘n vinnige bosberaad word daar besluit ons draai terug hek toe, gaan geld terug vra en maar ander kampeer plek soek by Die Hoek.

By die uitgang verduidelik ek aan die beampte ons probleem met die modder, vas sit en moeras kampeerplek. Hy verwys my toe na die kantoor waar ek vir Jeanette kry. Sy verstaan tenvolle dat ons nie so kan kamp nie en is bereid om ons gelde terug te betaal. Op daai oomblik is sy besig om op haar rekenaar te kyk na bespreekte staanplekke en sien toe dat daar ‘n kanselasie is. Staanplek nr 3. Dit het ‘n kragboks (wat ons nie van nut is nie aangesien ons toerusting alles werk sonder krag). Indien ons belangstel moet ons die ekstra gelde inbetaal en dan kan ons die staanplek vat. So gedoen.

Die staanplek was lieflik. Boomryk met so graskolletjie waar ons tent opslaan. Gou-gou is die hengel gereedskap uitgepak en sit ons rustig agteroor en geniet die heerlikheid van die buitelewe. Tussen myself en my vriend vang ons 5 kleinerige karpe wat ons weer terug sit in die water. (Ons hengel catch and release)

Later daai Donderdag aand sit ons almal rustig om die vuur en gesels oor dit en dat. Dit is toe wat ons onderbreek word deur ‘n “dame” wat deel is van die Bonanza beamptes.

“So julle is my stoute babas” word ons gegroet deur die vrou. Ek kyk so na die tent waar my vriende se kinders al lankal lê en slaap en wonder oor die vreemde vrou se opmerking. “Julle stokke moes al 6 uur uit die water gewees het” praat die vrou verder en beduie na my vriend se stokke wat nog water toe wys. (Na ‘n braai worsie en so paar lafenisse vir die keel het ons al vergeet van hengel. En dit is donker) Ons vertel haar toe dat ons nie aan die kompetisie deelneem nie en net rustig kamp. Dit is toe dat sy ons almal onverwags betrap met die woorde “Nou dan moet julle onmiddelik my oewer verlaat”. Daai tyd van die aand kinders wakker maak, kamp opslaan en dan waarheen ry ? Ons verweer van die vas sit, geld terug kry, ons geluk met die staanplek wat ‘n kanselasie was wou sy niks van weet nie. Net ‘n ongeskikte houding. Sys al sorg dat ons verwyder word. So asof ons skelms is. Met hande wat rondswaai pluk sy ‘n selfoon uit en bel iemand. “Sorg jy dat jy die mense nou kom uitsorteer” eindig haar gesprek op die selfoon en skarrel die vrou weg. Hier sit ons en kyk vir mekaar, verbaas, gedagtes wat netnou rustig was alles op ‘n knop. Wat moet ons maak ?

NOG later die aand kom Jeanette daar aangeloop met haar kind op haar rug. Dit is al ysig koud. ‘n Man het haar gebel en baie ongeskik laat weet dat ons “illegal” op hulle oewer is. Weereens word daar verduidelik dat ons bereid was om ons geld te vat en ander plek te soek maar dat sy (Jeanette) die staanplek aan ons voorgestel het. Ongelukkig het sy gedink ons neem deel aan die kompetisie en dit is die rede hoekom ons die staanplek kon kry. Met die woorde “ek sal dit more uitsorteer” is Jeanette en haar kind daar weg. Dit was die laaste wat ons van haar of die ander vrou gehoor het.

Die res van ons tyd langs die dam was egter lekker behalwe dat ons die heeltyd gewonder het oor wanneer iemand ons hier gaan weg boender.

Die uwe

“Skelm” hengelaar

Advertisements

Posted on Junie 27, 2011, in Ruik soos vis. Bookmark the permalink. 2 Kommentaar.

  1. Dit laat my dink aan ‘n baie groot padda in ‘n baie klein dam(oewer).

    Net mooi belaglik

  2. Bloemhof se speedcops is ook glad nie lekker nie- as ‘n mens daar deur loop dan kry jy ‘n spoedkaartjie.

Sit 'n takkie op

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: