Die Kritiese Oomblik

Die Kritiese Oomblik

 

Die lewe bestaan, as mens mooi daaroor gaan dink, uit verskeie kritiese oomblikke. Baie keer is daardie oomblik ook die einde van ʼn lewe. Wat verstaan mens onder ʼn kritiese oomblik? My gevoel is dat dit daardie oomblik is waarin jou besluit iets onomkeerbaar kan verander. Net jou besluit, nie die van iemand anders nie, joune!

 

Wat bedoel ek daarby? Laat ek verduidelik: wanneer jy besluit om die sneller trek, verander jy onomkeerbaar iets. Dit is ʼn kritiese oomblik vir ʼn bok of mens. Dit is daardie oomblik wat jy besluit, of gekonfronteer word met die besluit, om te doen of nie te doen nie. Sou jy die besluit neem om wel skiet, bv. na ʼn bok, verander daardie oomblik die lewe van die bok en ook van jou. As dit ʼn goeie skoot is, het jou besluit ʼn lewe geneem en jy is dankbaar as jagter. As dit ʼn slegte skoot is, het jou besluit steeds onomkeerbare gevolge. Jy kan nie die koeël terugroep nie, jy kan nie die skoot herplaas nie, jy kan, met ander woorde, nie die gevolg van jou besluit verander nie. Die oomblik, die kritiese oomblik, is verby en jy het gedoen of gelaat. Jou bok is dood, gekwes, misgeskiet of die bok weet nie eers van die kritiese oomblik waarby jy te staan gekom het nie.

 

Ek dink dit is waar bokkoors vandaan kom. Dit is daardie kritiese oomblik van die besluit om jouself te verbind tot ʼn onomkeerbare gevolg. Dit veroorsaak ʼn skielike verandering in die gemoed van die jagter, dit is die besluit om te doen(of nie te doen nie) en dit kom vinnig, dit is hoekom ek dit ʼn kritiese oomblik noem. Die bok gaan nie heeldag stilstaan nie en jy word verplig om die besluit te neem. Soos een goeie vriend van my en ʼn ervare vlieënier altyd sê: “ Jy moet maak boetie, jy moet maak,  daar is nie tyd vir wonder nie…!” Daardie besef laat skielik die spreekwoordelike bloeddruk opgaan en maklik word dit ʼn bewerigheid. Party jagters hanteer dit beter as ander. Hulle absorbeer die druk en kry die skielike bewerigheid onder beheer. Ander gaan aan die bewe en die kritiese oomblik veroorsaak ʼn slegte skoot of geen skoot nie.

 

Ek dink dat as ons almal eerlik is met mekaar dan sal ons vir mekaar sê dat ons dit steeds ervaar na baie jare van jag. Daar is ʼn skielike gewaarwording van opgewondenheid, wanneer ons besef dat die bokke nou hier is en dat daar nou geskiet en raak geskiet moet word. Met ander woorde, dat die kritiese oomblik aangebreek het. Hoe meer ervare die jagter, hoe makliker hanteer hy/sy dit.

 

Ek het al baie gewonder of die behoefte wat by so baie jagters bestaan vir die gebruik van alkohol in die jagveld, nie juis bestaan vanweë die benoudheid oor die hantering van die kritiese oomblik nie. Dit maak die neem van die besluit dalk makliker?

 

Miskien het die kritiese oomblik betreffende die besluit om te skiet ook ʼn groter impak vanweë die feit dat daar na ʼn lewende dier geskiet word en dat ons nie werklik wil doodmaak nie? Dalk is dit waar die behoefte aan drank in die veld vandaan kom? Die gebruik daarvan verdof die gewete of maak dit net in die algemeen makliker om die sneller te trek, om dood te maak?

 

Ook is dit so dat dit kan gebeur dat daar, op die kritiese oomblik, iets gebeur wat die hele aanloop daartoe en die voorsiene gevolg heel kan verander na iets wat glad nie beplan was nie. Met ander woorde dat daar op die kritiese oomblik en sonder die jagter se toedoen, terselfdertyd iets gebeur wat die hele prentjie kan verander. In die jagveld het dit al by twee geleenthede oor 34-jaar van jag met my gebeur.

 

Die eerste was met ʼn koedoebul wat langs die lyndraad gestaan en neuk het met ʼn bul aan die ander kant. Ek was aan’t jag en was afgelaai op ʼn gedeelte van die plaas met die opdrag om deur die bepaalde stuk bos te jag tot teen die lyndraad waar ek opgelaai sou word. Met die dat ek by die lyndraad arriveer, staan die bul plankdwars langs die draad, so 200 meter van my af en mik-mik na die bul aan die anderkant van die draad.

 

So besig was hy met die intimidasiestryd dat hy sy gewone aard van absolute waaksaamheid heeltemal vergeet het en glad nie gelet het op die dood wat skielik hier uit die bosse te voorskyn gekom het nie. Die 375H&H Magnum het lekker stil in die skietstokke gaan lê met die kruisie wat stewig vassuig aan sy blad. Met die druk van die sneller, en spesifiek op daardie oomblik, (die kritiese oomblik), swaai die bul om en in stede van ʼn goeie skoot tref die 230grein punt hom slegs deur die heel agterste punt van die een long en my moeilikheid was spreekwoordelik, ge-book.  Dit was baie later toe ek hom met die hulp van ʼn vriend(dit is ʼn ander baie goeie storie) gekry het.

 

Die tweede keer was so twee naweke terug toe ek daar in Vryheid se wêreld rooibokke en voëls gejag het. Ons het die troppie rooibokooie in ʼn oop vlakte gekry, so naby aan 400-meter. Ek en die PH het van die Cruiser afgeklim en rustig nader beweeg met ʼn enkele struik as dekking. Hulle was so 120- tot 150 meter van ons af, toe die PH die stokke vir my neersit. “Man, maar dit was ʼn goeie reënjaar!” was die eerste gedagte wat deur my kop geflits het toe ek na die troppie ooie so deur die teleskoop loer. Die gras was plek-plek hoër as die bokke se rûe en net die koppe en daardie ou dun nekkies se boonste gedeelte was sigbaar.

 

In volle aanskoue van my vrou en die ander manne agter op die Cruiser, wat so 200-meter agter ons was, was ek glad nie van plan om mis te skiet of ʼn kans te waag nie. Ook was dit maar ʼn klompie jong ooitjies en met twee springbokke reeds in die vrieskas by die huis as eetvleis, was ek opsoek na ʼn groter bok vir biltong.

 

Ek gryp toe die stokke en tree so vyf tree terug waar daar bietjie hoër grond was sodat ek hulle beter kon beskou en sien terselfdertyd ʼn mooi ooi, so bietjie verder en eenkant van die troppie af, plank dwars staan. Sy het agterdogtig getuur na die vreemde ding met sy cammo-gewaad. Die PH kon haar nie mooi sien nie maar, en al is hy nog lekker jonk, het hy genoeg teenwoordigheid van gees aan die dag gelê om nie ook te probeer kyk en so die kans te laat misluk nie. Met die dat ek die .243 op die skietstokke neersit, het die kruisie lekker gemaklik op die blad vasgesteek en het ek ge- squeeze.

 

Met die klap van die skoot, letterlik, en op die kritiese oomblik, sien ek haar deur die teleskoop draai. Vir ʼn oomblik was my hart in my keel en toe kom die “doep” van die koeël wat kontak maak en sy verdwyn uit die teleskoop. Toe die PH komplimenteer oor die goeie skoot en vra waar ek haar geskiet het, het ek geantwoord: “Laag op die nek” maar, het ek by myself gedink: “As sy anderkant toe gedraai het, was dit deur die boud in die pens in en as ek ʼn millisekonde later geskiet het was dit mis!” Sy het letterlik haar nek in die koeël se pad inbeweeg. Hierdie keer en dankie tog, was die dier se optrede op die kritiese oomblik vir my goed. My gewone dankgebedjie was derhalwe so sekonde langer as gewoonlik; ʼn man wil darem werklik nie ten aanskoue van jou vrou sleg skiet nie!

 

So is dit derhalwe my gedagte dat, as ʼn ou mooi gaan dink oor jou huidige lewe, bestaande uit die nou en hier, jy sal besef dat dit die resultaat is van besluite geneem of nie geneem nie, dinge gedoen of nie gedoen nie, of gebeure wat plaasgevind het en waaroor jy geen beheer gehad het nie, op die verskeie kritiese oomblikke wat op jou pad gekom het. Ook is dit my mening dat dit onafwendbaar is dat jy in die toekoms en nie net in die jagveld nie, en selfs op ʼn daaglikse basis, daardie kritiese oomblikke gaan beleef. ʼn Mens kan maar net in die geloof handel met die vertroue dat jy op die regte oomblik, die kritiese oomblik, jouself met verantwoordelikheid sal bind tot die regte handeling of late.

 

 

© DB Jamneck

Advertisements

Posted on Julie 1, 2011, in Neef se kole. Bookmark the permalink. 4 Kommentaar.

  1. Netjiese stuk skryfwerk. Die parallel getrek tussen jag en lewensveranderende besluite is ‘n ou persoonlike gunsteling.

    Oor jag en drink – neewat, daar is jagters en dan is daar drinkebroers. G’n JAGTER sal alkohol saamneem jagveld toe nie en klaar. Die klomp wie alkohol saamneem jagveld toe, is ‘n klomp uitvaagsels wie net rede soek om te drink. Drank maak g’n jagter dapper nie. Om drank jagveld toe te neem, is soos om ‘n sakeman na ‘n suikerhuis te neem vir die beklinking van ‘n saketransaksie.

  2. die hier en die nou van die lewe, ja, dit is wat die lewe maak.

  3. Lekker geskryf, en dis baie waar. As jy die vurk in die pad gemis het, kan jy selfde omdraai en weer daai vurk gaan vat.

    • Nie heeltemal op die onderwerp hierbo gemik nie, maar mag ek vra oor die vurk in die pad: die blote feit dat ‘n mens dit gemis het (of een rigting ipv die ander gekies het), beteken dit noodwendig dat die vurk nie meer bestaan nie?

Sit 'n takkie op

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: