Category Archives: Neef se kole

Stories en vertellinge uit die pen van my neef, D.B.Jamneck.

Laatmiddag keuses

Nog ‘n verhaal (feitlik) uit die pen van my neef.

Laatmiddag keuses

 

Dis laat middag toe ek hom sien, eintlik te laat, maar ek het al baie vêr geloop en hy is mooi. Verstommend, bly hy staan, ek skat net oor die 80 treë, effens skuins en hou die bors net reg vir die koeël. Ek besef hier is nie nou kans vir boom of ander dooierus nie, ek weet hy sien my en ek weet dit is sekondes voor hy daardie lang spiraal horings agter toe gaan gooi, blaf en laat waai.

 

Die feit dat dit amper al te laat is maal deur my kop terwyl die 375 stadig skouer toe kom. Ek besef dat as ek nie nou behoorlik raak skiet nie, dit ʼn droewige nag gaan word; daarvoor het ek nie lus nie. Die kruishaar kruip op tot waar ek wil hê die koeël moet in, en asof vanself skuif die FN se veiligheidsknip vorentoe en my snellerhand begin toemaak.

 

Skielik is hy net weg, sommer netso en sonder blaf, ek hoor nog een keer die takke teen sy horings klap en dan is dit net die bos met sy geluide wat hom ingesluk het. Ek wil vir ʼn oomblik my voet stamp uit frustrasie, maar dan besef ek dat dit mos is waaroor jag gaan. Dit was so hittete of hy was myne en vinniger kon ek nie gemaak het nie, dink ek terug aan die oomblik. Ek glimlag, maak die geweer veilig en gooi dit oor my skouer. Die dag se jagtyd is nou verby en ek stap terug kamp toe. Vanaand se kampvuur whiskey sal, na ʼn lekker stort, net nog lekkerder afglip.

 

Ek stap na die naaste pad en stoot aan. Dis nog ʼn hele ent se stap en ek het nie lus vir in die donker loop nie. Ons het juis gisteroggend mooi luiperdspore naby aan die kamp gekry en vir dié ou katjie het ek ʼn heilige respek.

 

Soos ek stap beleef ek weer die dag se jag. Dit was my beurt om die oggend se sessie uit te sit en was brunch my taak. Die skilpadjies en wors het goed afgegaan saam met die eiers en plaasbrood. Ek is nie eintlik lief vir die middag sessie nie omdat dit kort is en ek my altyd verbeel dat die bokke meer sku is as in die oggend.

 

Ook het ek nog altyd meer slange teëgekom in die middag as in die oggend en onwillekeurig dink ek terug aan daardie moerse pofadder daardie een middag op ʼn pragplaas naby Vaalwater. My hoendervleise slaan sommer vars uit as ek terugdink aan hoe amper ek op die ou grote getrap het. Ek kan nou nog nie glo dat my ou dik lyf so vêr kon spring nie.

 

Onwillekeurig kyk ek af grond toe en skielik uit die hoek van my oog vang ʼn beweging in die bos my. Ek gaan staan en voor my, seker weer so 80 treë, kom ʼn pragtige koedoebul uit die bos en gaan staan plankdwars. Twee bulle in een dag. Ek sweer hierdie is dieselfde bul en dit is asof sy manier van na my kyk, dieselfde sê.

 

Ek skud my kop en stap verder, reguit in sy rigting en hy bly staan. Dit het ek nog nie teëgekom nie en ek steek weer vas; vir ʼn hele paar sekondes staan ons mekaar so en beloer en toe verdwyn hy in die skemerte met ʼn grasieuse sprong die bos in. Ek het êrens gehoor dat dit ʼn koedoe se ding is: hy weet wanneer jy hom jag en wanneer jy nie gaan skiet nie. Ek het nog altyd gedink dat dit ʼn wolhaarstorie is maar nou begin ek wonder. Wat ʼn lekker middag!  

 

Die volgende dag is ek vroegoggend uit die vere en na ʼn lekker koppie koffie vaar ek die bos in. Ek hou van stadig stap en mooi kyk. Ek wil die bokke sien voordat hulle my gewaar. Daar is vir my geen beter jagervaring as om ʼn bok te skiet terwyl hy geen benul het van my teenwoordigheid nie. Dit maak partykeer vir lank loop en vêr kruip, maar dit is wat jag vir my is.

 

So net tien minute uit die kamp uit loop ek my in ʼn trop rooibokke vas. Ek bekruip hulle rustig en kry ʼn lekker dooierus plekkie so op 70 treë. Ek skiet ʼn ram wat besig is om aan ʼn tak te vreet, deur die nek en hy sak net daar inmekaar. Die res van die trop skrik en kom reguit na my toe aangehardloop. Ek is al as kind geleer om onmiddellik ʼn vars patroon in die loop te druk die oomblik wat die eerste skoot klap. Dit is nou al so ʼn gewoonte dat ek dit doen sonder om daaraan te dink. Toe die aankomende bokke so 20-treë van my af is besef hulle skielik dat ek daar is en steek vas. Ek skiet ʼn jong ram deur die kop en die ander spaander verward weg.

 

Ek maak die geweer veilig en stap terug kamp toe om die bakkie te gaan haal. Daar aangekom kyk die manne my vraend aan en ek vertel. Een sê vir my dat hy met die klap van die eerste skoot op sy horlosie gekyk om te sien hoe laat dit is en toe die tweede skoot klap het hy weer gekyk en dit was presies 10-sekondes na die eerste skoot. Tien minute uit die kamp uit en twee bokke. Ek het nog nie eers begin sweet nie. Dit was my oggend en ek het dadelik aan een van die ander ouens, wie se beurt dit was om die oggendsessie uit te sit, kans gegee om met dié sessie aan te gaan. Dit was nog baie vroeg en die son was pas op.

 

Daardie middag bied hy my sy stapsessie aan en gedagtig aan daardie koedoe, aanvaar ek dankbaar. Met die windrigting soos wat dit was sou ek opstap tot teen die lyndraad en sou die manne my skemer daar kom soek. Dit was een van my gunsteling gedeeltes op die plaas en ek het al ʼn hele paar bokke daar doodgeskiet. Hierdie middag was egter die uitsondering. Daar was niks om te skiet nie en ek het my stadige stappie deur die bos baie geniet. Net voordat ek besluit dat jagtyd verby is, loop ek my egter in ʼn trop blouwildebeeste vas.

 

Ek begin bekruip maar kry net nie ʼn skoot in nie. Dit is ʼn groterige trop en telkens is daar ʼn dier in die pad van of agter die een waarna ek wil skiet. Die jagtyd tik verby maar ek is vasberade om een te skiet. Dis die laaste dag van die trip en met net drie rooibokke soek ek nog biltongvleis. Ek besef dat blouwildebees se kind ʼn taaie kalant is en besef ook dat ek baie seker moet maak van my skoot so laat in die middag.

 

Na ʼn lang gesukkel gaan staan daar ʼn mooierige bul eenkant en ek lê aan. Deur die teleskoop besef ek skielik egter dat ek so besig was met die bekruipery dat ek in geheel rekening verloor het met die feit dat dit al sterk skemer begin word het en nie meer jagtyd nie. Die kruishaar wil net nie lekker op die donker bok vassteek nie en ek besluit om nie te skiet nie.

 

Al is dit die tweede bok van die trip wat my in die skemer snoeker bly ek dankbaar dat ek nie geskiet het nie. Waar kry jy daardie bok as dinge verkeerd loop en hoe gaan hy nie ly nie. Nee, dan is vashou maar eerder die regte ding. Geen bok verdien die risiko om op so wyse, dood te gaan nie. Of dit nou ʼn behoefte aan vleis is of ʼn ego wat gestreel moet word, hou maar eerder vas as dit begin laat raak. Jy gaan jouself skop as jy die bok verloor omdat jy nie beheer toegepas het nie. Nie net is dit ʼn vermorsing van die bok se lewe nie maar ook die geld wat jy gaan betaal vir iets wat nie yskas of muur toe gaan nie.

Advertisements

Kwesbaar

Soos die wintertjie begin naderkom en ek hom vroegoggend begin ruik so begin die jaglus ook naderkom. Deesdae is dit ʼn gesukkel vandat Jaap sy jagplaas verkoop het. Ons het so lank daar gejag dat ek al sekere bome in die veld begin herken het en nee, ek praat nie van maklike herkenbare groot bome nie, ek praat van bome en bosse soos daardie struik waaronder die rooibok eendag ingeval het nadat die koeël hom getref het.

Ek kon nie verstaan hoekom die bok nie lê waar ek hom soek nie. Op die gids se “dis mis” het ek hom net aangegluur. Ek weet wanneer ek droog maak en hierdie was nie een van daardie kere nie. Gelukkig het die bok ʼn laaste stuiptrek skop gegee en met ʼn “Hau.…!” het die man die mooi knykoprooibok onder die bos uitgesleep.

Hoekom dit ʼn gesukkel is omdat ek nie deur al die jare wat ons by Jaap gejag het, regtig kontak opgebou het op ander jagplase nie. Nou is dit elke keer ʼn gerondvallery tussen onbekende plekke en meer nog, onbekende mense. Een ding wat nie twee is nie is dat hierdie wildbedryf vir ons gewone biltongjagters maar baie vol slaggate is welke gate maar gevul is met ʼn paar vreemde kreature. Verstaan my mooi, ek wil nie veralgemeen nie, maar wragtag, ek is al in die paar jaar wat ons nie meer by Jaap jag nie ʼn paar keer lekker ingeloop. Dis ingeloop, al is daar oor en weer korrespondensie, jagkontrakte, skriftelike bevestigings, you name it , in plek.

Jy sien, die probleem is afstand. As die jagter eers daar aangekom het, na ʼn moerse vêr geryery, dan het die kreatuur jou aan die, hoe sal ek dit nou stel, teer plekkies, beet en kan hy redelik hard druk. Hoe vêrder jy gery het hoe sterker maak jy sy hand. Skielik is die vooraf gereelde 4-springbokke en 1-gemsbok per jagter nou slegs een springbok per jagter en 2-gemsbokke vir die hele groep van 6. Help jou veel jy pluk die papiere uit, daai papiere help jou net niks as jy bykans 900km van die huis af sit nie.

Of skielik, word die vark wat jy geskiet het se tande benodig vir iets (lees: iemand) en al soek jy nou al jare na so vark, is dit net hoe dit is. Of skielik is ʼn dier baie duurder, of daar is nou minder gidse, of die yskas werk eenvoudig nie. So kan ek op die lysie aangaan en aangaan en ek is seker elkeen wat hierdie lees, as hy/sy elke jaar jag, het ook sy eie stuiwer om by te gooi.

Wat my bekommerd maak is dat uit elke drie jagtogte daar minstens een so kreatuur was wat met voorbedagte rade jou na sy plaas gelok het. En elkeen los so bitter gevoel in die bek, in die nersderm, of laat jou bloed en pensmis meng. Eerder as om goeie herinneringe van jou jag, waarna jy al van die einde van die vorige seisoen uitgesien het, te hê, is die teendeel waar.

Maar eintlik dwaal ek af. So wanneer ek die winterreukie kry begin ek ernstig jagplek soek. Ek lees my vereniging se tydskrif, ek lees ander verwante tydskrifte, ek gaan op die internet. Dit doen ek alles met groot afwagting en opgewondenheid.

Miskien is ons die jaar gelukkig en maak ons weer ʼn plaas vas waarheen ons jaarliks kan teruggaan. Waar die boer naderhand jou vriend word en waar wedersydse vertroue

onskendbaar bestaan. Waar hy jou aan die begin van die jaar bel en vra watter tyd hy vir jou groep moet oophou. Dis wat ons altyd by Jaap gehad het en dit was lekker. Jy was nie kwesbaar nie en hy het ook geweet dat die oggend wat jy ry, behalwe vir die gebruikte maar opgevoude beddegoed, die kamp so agtergelaat word soos jy dit op aankoms gekry het.

Dan begin die skokke. Die manne adverteer biltong jagte, maar dis seker vir buitelandse biltongjagters want wragtag, die pryse laat my en my tjekboek saam steier. Dis ʼn prys vir hout, ʼn prys vir afslag, ʼn prys vir die voertuig, ʼn prys vir oorslaap, ʼn prys vir die jagdag, en wragtag, by sommige selfs ʼn prys vir die ys en so gaat hulle voort.

Dan praat ek nie eers van die bokke nie. Party se pryse werk per elke sentimeter van die horing. Aai mense ek kom bok skiet, nie horings nie. Party vra per kilogram maar ô wee, maak tog seker hoe daardie kilogram bereken word. Nie almal het dieselfde definisie van karkas gewig nie. Ook besluit elke ou sommer op sy eie wat as ʼn trofee kwalifiseer. Geen Roland Ward  of SCI as standaard nie, nee dis eerder sy eie standaard. En boetie, maak ʼn foutjie en skielik word jy sommer aangeslaan om as trofee jagter bok, verblyf en dagfooie te betaal.

Ek dink nie ek is alleen in my denke nie. My mede jagvriende, almal ouens wat regtig nie ʼn sukkel bestaan voer nie maar ook nie Oppenheimers is nie, stem saam. Ek besef terdeë dat die boere moet geld maak. Maar kom ek gee bietjie die inset van ʼn  ou wat kom jag vir vleis:

  • Jy sien, gewoonlik gaan mammie nie saam nie. Sy bly by die huis en doen haar ding want sy gun jou die tydjie weg saam met die manne en, in my geval, dink ek partykeer sy sien meer uit na my jagtrip sodat sy bietjie van my ontslae kan wees. Maar jy gaan haar ook bietjie moet wegvat in die jaar;
  • Baie van die manne verkoop professionele tyd vir ʼn lewe. Daardie ure wat jy nie by die werk is nie se verlies aan inkomste is ure waarvan die koste onafwendbaar tot die totaal van jou jagpaket moet bygetel word;
  • Baie van die ander manne moet verlof neem. Onthou daar is nog mammie en kinders wat ook graag saam met pappie op verlof wil gaan;
  • Omdat jy nie verkoelingsgeriewe het nie en/of meer nog omdat jy nie tyd het om na jou  terugkoms jou eie vleis te werk nie, staan die slagter ook nog bakhand om sy aansienlike deel tot jou koste te voeg. Dis nie snaaks om nadat jy reeds baie geld vir jou bokke (en die gepaardgaande koste) betaal het nog die slagter se rekeningkie ook te moet betaal nie. Dis nie vreemd om ʼn slagtersrekening van etlike duisende rande te betaal nie. Onthou, weereens, mamma is ook nog daar en jy kan nie al die geld op jouself spandeer nie;
  • Dan moet jy nog daar kom, ammunisie koop, kos koop, drinkgoed koop ens, ens;
  • Om die som te laat klop kan jy eenvoudig nie net een bokkie skiet nie. Werk bietjie uit wat kos daardie rooibok, springbok of wat se bok ook al, as jy net een skiet;
  • As jy in die algemeen die somme maak, my ou maat, koop biltong by jou slagter, gaan skiet op die skietbaan ʼn paar uitsoek skote op een of meer van die papier bokke wat deesdae so volop is en vat mamma na een van die wildtuine toe om jou behoefte aan die veld te versadig. Jy gaan baie kleingeld oor hê!

Hoe meer ek die jaarlikse pryse beskou en al die ekstratjies wat bykom hoe meer voel ek ʼn woeling en ʼn bitterheid begin in my opwel. As dit so aanhou is dit nie lank nie of ek begin net met die verkyker en kamera jag daar op plekke wat regte jag verbode is. Ek begin ook al hoe meer besef dat die pryse van jag uiteindelik die ondergang van hierdie ongelooflike voorreg gaan wees. Dit gaan net eenvoudig te duur begin word om Jannie sy eerste bok te laat skiet en die spesiale gevoel van jag en alles wat dit bring, te laat ervaar. Hoe jammer is dit nie.

Miskien het dit tyd geword, vir ons kwesbares, om dan nou maar almal as ʼn eenheid en volgens die ou leuse van “Eendrag maak Mag” net vir een jaar glad nie te gaan jag nie. Miskien sal die manne wat ons so duur laat betaal, dan beter verstaan wat die biltongjagter werklik vir jag beteken.

‘n Kantoorman se storie

My vriende

 Ek deel graag met julle ʼn verhaaltjie van so ʼn rukkie terug se jagtery. Dit het definitief beter gegaan as die trippie van 2-weke terug toe ek ʼn blou bees geskiet het wat net nie wou bakkie ry nie. Julle weet mos, dis nou die van julle wat al wel in so ʼn onbevoorregte posisie was, dat ʼn kwesbok by jou spook. So sit ek die skoot en skootplasing weer en weer herleef en besluit dat waar ek dink ek die bok geskiet het, selfs al was dit nie heeltemal waar ek wou nie, hy wel moes geval het. 

 “Mens blameer nooit jou tools nie”, is ek deur my vader geleer en “veral blameer jy nie jou geweer nie”, was sy wyse woorde. Maar julle weet, ek en die ou 3 en driekwart van my kom ‘n lang pad en ek ken hom. Nadat ek derhalwe die skoot vir die soveelste keer herleef, besluit ek om bietjie aandag te gee. En ja wragtag, een van die skroewe is los en die scope is skeef. Hoe dit gebeur het slaat my stom, maar so leer mens. Ek her-mount die scope en loop skiet hom oredentlik in.

 Die plaas waar ons gaan jag het, het ons laasjaar ook op gaan skiet. Dit behoort aan ʼn befoeterde boer maar my kliënt, wat die trip reël, wil nie vêr ry saam met sy kliënte nie en bespreek toe hierdie jaar weer daar. Die plaas is net 64 km van my huis af en dis regtig mooi bosveld met baie wild, so ongeag die eienaar en sy streke en ook omdat die ou wat die trip reël regtig een van my groter en beter betalende kliënte is, gaan ek saam toe ek genooi word.

 Die hele geweer-regmaak en herinstellery van die scope lei toe tot ‘n pragtige koedoe koei. Sy maak die fout om, na sy ons gesien aangestap kom, in stede van weg, net so paar tree te hardloop en toe ek vir haar fluit maak sy haar laaste fout deur plankdwars op 120 tree te gaan staan en vir my te kyk. Met die klap van die skoot nominate ek ‘n hartskoot en tipies hartskoot gaan sy so 30-tree en slaat neer.

 

By die bok gekom verkondig die knorrige ou plaaseienaar vir my en vir almal wat op die herwinningsbakkie is en hom aanhoor, dat die skoot te laag is en vertel hoe gelukkig ek is dat die bok nie weggekom het nie en dat die hart definitief nie daar sit waar ek die bok geskiet het nie. Onthou dat hierdie nie ‘n vriende trip is nie maar ‘n corporate hunt, waar die manne mekaar eintlik nie ken nie.

 Ek kyk weer na my skoot en bly tevrede met waar die koeël in en ook uit is. In koue erns strip ek my moer maar sê niks, ek weet mos man! Ons laai haar op en by die slagkamer aangekom vra ek stilweg die slagter om saam met die lewer ook vir my die hart te bring wanneer hy klaar geslag het. Daarna sluit ek my by die manne om die vuur aan om ietsie kouds te geniet.

 Glo julle dit dat daar aangekom die ou knorpot besig is om vir die manne om die vuur te vertel dat dit vir hom geen wonder is dat my bloubees van twee naweke terug weggekom het nie want duidelik en tipies weet ʼn man wat heeldag agter ʼn lessenaar sit nie eintlik waar skiet ‘n mens ‘n bok nie. Ek skop weer my briek vas tot teen my onderbroek om sodoende niks te sê nie en stap weg om ‘n bier te gaan haal.

 Dis toe daar by die yskas waar die slagter vir my die lewer en die skoongewaste hart, met die skoot dwarsdeur die middel, bring. Ek sit die ou stukkende hartjie op ‘n bord en vat dit rustig saam met my, toe ek vuur toe stap om by die manne aan te sluit waar die gesprek nou soos ‘n stuwende veldbrand ernstig handel oor waar die vitals nou eintlik geleë is en oor hoe belangrik skootplasing is en dat ouens wat heeldag op kantoor sit eintlik nie behoort te skiet as hulle nie weet presies waar die vitals is nie. 

 Nou julle sien daar is maniere en maniere om ‘n ding te laat insink. Mens kan daar instap en met luide erns die manne op die ou skootjie wys, of,  jy kan dit anders doen.

 Ek doen dit toe nou maar deur eenvoudig my bek te hou en bloot, sonder vertoon, die bordjie met die hart so effe links van my op die grond neer te sit, terwyl ek stil luister na die gesprek en die kritiek in my rigting gemik, absorbeer.

 Dis toe een van die harde praters, wat regs van my sit, wie se aandag eerste deur die inhoud van die bord hier neffens my, getrek word. Met ‘n gebaar beduie hy, so onder die gesprek deur, dat ek dit vir hom moet aangee. Hy tel die stukkende hart uit die bord uit op, draai dit om en om en hou dit so half, met ‘n verbaasde uitdrukking in sy gesig, voor hom uit in die algemene rigting van die vuur.

 Die gesprek om die vuur begin opdroog soos ‘n diesel wat sonder sous loop staan. Een van die ander manne staan op om die hart te vat en te beloer maar ek vat dit en sit dit in die hande van ons, op daardie stadium aan die woord, vitalspesialis-alles van jag wetende-knorpot-boer. Weereens, sonder om niks te sê nie.

 Hy bekyk die hart en kyk vir my. So half en half verleë kom sit ‘n skewe glimlaggie om sy smoel terwyl hy weet dat ek intussen, in die stilligheid, al my kanonne gelaai, oorgehaal en gekorrel het en dat niemand anders as hy in my visier is nie-die skrapnel sal die res van die slim praters in elk geval verniel. 

 Toe sê ek in die stilte wat om die kampvuur heers, met ‘n stadige-, stil-,  kalm stem:

  • Ek is eerstens geleer om baie seker te maak van my feite toe ek net-net uit die doeke was;
  • Ek is tweedens geleer hoe om te skiet toe ek nog ‘n baie klein seuntjie was.
  • Ek is derdens geleer waar elke vital in ‘n bok sit toe ek nog ‘n klein seuntjie was.
  • Ek is vierdens geleer, toe ek ‘n seuntjie was,  om baie seker te maak dat jy na ‘n spesifieke vital skiet wanneer jy ‘n bok skiet; en ek het laastens, deur 34- jaar van jag, geleer hoe om die hele bovermelde redelik goed uit te voer;
  • So boys, voordat een van julle nou weer begin stront praat voordat julle van die feite seker gemaak het, trap maar eerder die briek want ek is ook geleer dat dit nie lekker is om jou naam te vergat nie”

Die manne kon nie veel sê nie en ek het later met ‘n glimlag staan en luister hoe daar toe skielik deur die ou knorpot-boer, in ‘n gesprek met ‘n ou wat nie tydens die bovermelde gesprek by was nie, na my skootplasing verwys word as synde ‘n spesialis skoot te wees. Dit was moer lekker!

 Wat ook lekker was en al was die boer nie daarmee beïndruk nie, was dat van die meer onervare ouens daarna by my aanbevelings oor skootplasing kom vra het. Dis goed vir die gemoed veral na ‘n ou bloubees oepsie wat nou nog, en seker vir lank ook nog, in my gedagtes sal bly vassteek.

 Ek dog ek deel dit met julle. Ek sal dit eintlik saam met julle om ‘n bosveldvuur wil deel terwyl ons ietsie van hierdie pragtige koei op die vuur gaarmaak. Miskien moet ons so ietsie reël?!

 Groetnis

 Daan

Die Kritiese Oomblik

Die Kritiese Oomblik

 

Die lewe bestaan, as mens mooi daaroor gaan dink, uit verskeie kritiese oomblikke. Baie keer is daardie oomblik ook die einde van ʼn lewe. Wat verstaan mens onder ʼn kritiese oomblik? My gevoel is dat dit daardie oomblik is waarin jou besluit iets onomkeerbaar kan verander. Net jou besluit, nie die van iemand anders nie, joune!

 

Wat bedoel ek daarby? Laat ek verduidelik: wanneer jy besluit om die sneller trek, verander jy onomkeerbaar iets. Dit is ʼn kritiese oomblik vir ʼn bok of mens. Dit is daardie oomblik wat jy besluit, of gekonfronteer word met die besluit, om te doen of nie te doen nie. Sou jy die besluit neem om wel skiet, bv. na ʼn bok, verander daardie oomblik die lewe van die bok en ook van jou. As dit ʼn goeie skoot is, het jou besluit ʼn lewe geneem en jy is dankbaar as jagter. As dit ʼn slegte skoot is, het jou besluit steeds onomkeerbare gevolge. Jy kan nie die koeël terugroep nie, jy kan nie die skoot herplaas nie, jy kan, met ander woorde, nie die gevolg van jou besluit verander nie. Die oomblik, die kritiese oomblik, is verby en jy het gedoen of gelaat. Jou bok is dood, gekwes, misgeskiet of die bok weet nie eers van die kritiese oomblik waarby jy te staan gekom het nie.

 

Ek dink dit is waar bokkoors vandaan kom. Dit is daardie kritiese oomblik van die besluit om jouself te verbind tot ʼn onomkeerbare gevolg. Dit veroorsaak ʼn skielike verandering in die gemoed van die jagter, dit is die besluit om te doen(of nie te doen nie) en dit kom vinnig, dit is hoekom ek dit ʼn kritiese oomblik noem. Die bok gaan nie heeldag stilstaan nie en jy word verplig om die besluit te neem. Soos een goeie vriend van my en ʼn ervare vlieënier altyd sê: “ Jy moet maak boetie, jy moet maak,  daar is nie tyd vir wonder nie…!” Daardie besef laat skielik die spreekwoordelike bloeddruk opgaan en maklik word dit ʼn bewerigheid. Party jagters hanteer dit beter as ander. Hulle absorbeer die druk en kry die skielike bewerigheid onder beheer. Ander gaan aan die bewe en die kritiese oomblik veroorsaak ʼn slegte skoot of geen skoot nie.

 

Ek dink dat as ons almal eerlik is met mekaar dan sal ons vir mekaar sê dat ons dit steeds ervaar na baie jare van jag. Daar is ʼn skielike gewaarwording van opgewondenheid, wanneer ons besef dat die bokke nou hier is en dat daar nou geskiet en raak geskiet moet word. Met ander woorde, dat die kritiese oomblik aangebreek het. Hoe meer ervare die jagter, hoe makliker hanteer hy/sy dit.

 

Ek het al baie gewonder of die behoefte wat by so baie jagters bestaan vir die gebruik van alkohol in die jagveld, nie juis bestaan vanweë die benoudheid oor die hantering van die kritiese oomblik nie. Dit maak die neem van die besluit dalk makliker?

 

Miskien het die kritiese oomblik betreffende die besluit om te skiet ook ʼn groter impak vanweë die feit dat daar na ʼn lewende dier geskiet word en dat ons nie werklik wil doodmaak nie? Dalk is dit waar die behoefte aan drank in die veld vandaan kom? Die gebruik daarvan verdof die gewete of maak dit net in die algemeen makliker om die sneller te trek, om dood te maak?

 

Ook is dit so dat dit kan gebeur dat daar, op die kritiese oomblik, iets gebeur wat die hele aanloop daartoe en die voorsiene gevolg heel kan verander na iets wat glad nie beplan was nie. Met ander woorde dat daar op die kritiese oomblik en sonder die jagter se toedoen, terselfdertyd iets gebeur wat die hele prentjie kan verander. In die jagveld het dit al by twee geleenthede oor 34-jaar van jag met my gebeur.

 

Die eerste was met ʼn koedoebul wat langs die lyndraad gestaan en neuk het met ʼn bul aan die ander kant. Ek was aan’t jag en was afgelaai op ʼn gedeelte van die plaas met die opdrag om deur die bepaalde stuk bos te jag tot teen die lyndraad waar ek opgelaai sou word. Met die dat ek by die lyndraad arriveer, staan die bul plankdwars langs die draad, so 200 meter van my af en mik-mik na die bul aan die anderkant van die draad.

 

So besig was hy met die intimidasiestryd dat hy sy gewone aard van absolute waaksaamheid heeltemal vergeet het en glad nie gelet het op die dood wat skielik hier uit die bosse te voorskyn gekom het nie. Die 375H&H Magnum het lekker stil in die skietstokke gaan lê met die kruisie wat stewig vassuig aan sy blad. Met die druk van die sneller, en spesifiek op daardie oomblik, (die kritiese oomblik), swaai die bul om en in stede van ʼn goeie skoot tref die 230grein punt hom slegs deur die heel agterste punt van die een long en my moeilikheid was spreekwoordelik, ge-book.  Dit was baie later toe ek hom met die hulp van ʼn vriend(dit is ʼn ander baie goeie storie) gekry het.

 

Die tweede keer was so twee naweke terug toe ek daar in Vryheid se wêreld rooibokke en voëls gejag het. Ons het die troppie rooibokooie in ʼn oop vlakte gekry, so naby aan 400-meter. Ek en die PH het van die Cruiser afgeklim en rustig nader beweeg met ʼn enkele struik as dekking. Hulle was so 120- tot 150 meter van ons af, toe die PH die stokke vir my neersit. “Man, maar dit was ʼn goeie reënjaar!” was die eerste gedagte wat deur my kop geflits het toe ek na die troppie ooie so deur die teleskoop loer. Die gras was plek-plek hoër as die bokke se rûe en net die koppe en daardie ou dun nekkies se boonste gedeelte was sigbaar.

 

In volle aanskoue van my vrou en die ander manne agter op die Cruiser, wat so 200-meter agter ons was, was ek glad nie van plan om mis te skiet of ʼn kans te waag nie. Ook was dit maar ʼn klompie jong ooitjies en met twee springbokke reeds in die vrieskas by die huis as eetvleis, was ek opsoek na ʼn groter bok vir biltong.

 

Ek gryp toe die stokke en tree so vyf tree terug waar daar bietjie hoër grond was sodat ek hulle beter kon beskou en sien terselfdertyd ʼn mooi ooi, so bietjie verder en eenkant van die troppie af, plank dwars staan. Sy het agterdogtig getuur na die vreemde ding met sy cammo-gewaad. Die PH kon haar nie mooi sien nie maar, en al is hy nog lekker jonk, het hy genoeg teenwoordigheid van gees aan die dag gelê om nie ook te probeer kyk en so die kans te laat misluk nie. Met die dat ek die .243 op die skietstokke neersit, het die kruisie lekker gemaklik op die blad vasgesteek en het ek ge- squeeze.

 

Met die klap van die skoot, letterlik, en op die kritiese oomblik, sien ek haar deur die teleskoop draai. Vir ʼn oomblik was my hart in my keel en toe kom die “doep” van die koeël wat kontak maak en sy verdwyn uit die teleskoop. Toe die PH komplimenteer oor die goeie skoot en vra waar ek haar geskiet het, het ek geantwoord: “Laag op die nek” maar, het ek by myself gedink: “As sy anderkant toe gedraai het, was dit deur die boud in die pens in en as ek ʼn millisekonde later geskiet het was dit mis!” Sy het letterlik haar nek in die koeël se pad inbeweeg. Hierdie keer en dankie tog, was die dier se optrede op die kritiese oomblik vir my goed. My gewone dankgebedjie was derhalwe so sekonde langer as gewoonlik; ʼn man wil darem werklik nie ten aanskoue van jou vrou sleg skiet nie!

 

So is dit derhalwe my gedagte dat, as ʼn ou mooi gaan dink oor jou huidige lewe, bestaande uit die nou en hier, jy sal besef dat dit die resultaat is van besluite geneem of nie geneem nie, dinge gedoen of nie gedoen nie, of gebeure wat plaasgevind het en waaroor jy geen beheer gehad het nie, op die verskeie kritiese oomblikke wat op jou pad gekom het. Ook is dit my mening dat dit onafwendbaar is dat jy in die toekoms en nie net in die jagveld nie, en selfs op ʼn daaglikse basis, daardie kritiese oomblikke gaan beleef. ʼn Mens kan maar net in die geloof handel met die vertroue dat jy op die regte oomblik, die kritiese oomblik, jouself met verantwoordelikheid sal bind tot die regte handeling of late.

 

 

© DB Jamneck